Koeksister

Daar is ‘n paar woorde in Afrikaans wat herinneringe oproep: koeksister, poskaart, moerkoffie, kaalgatperske en windpomp om maar net ‘n paar te noem. Kom ons bly vir nou by koeksister. Wanneer ek die woord hoor dink ek aan lekker kuier saam met koffie. Ek dink ook aan my ouma se kombuis in Pretoria Wes waar sy altyd vir die kerk koeksisters gebak het. Proklamasieheuwel met sy pers Jakaranda’s en die sade wat soos kwakende paddas in die straat le. Dis vae herinneringe. As ek dink aan die prente in my kop het dit sulke dowwe swart rante van klein wees en lank gelede. Ek onthou ‘n gebeurtenis maar as ek verder en dieper wil kyk kry dit ‘n dowwe rant. Saam met koeksisters onthou ek die hoede wat ons kerk toe gedra het. Sulke bloues en pienkes. Ek onthou ook die paar keer se busry stad toe saam met ouma. Dit was seker net een of twee keer maar dit was baie lekker. Ek dink nou weer aan die koeksister deeg. Mens moet dit dun uitrol, dan sny en dan vleg. Nou vir die warm olie…dan die yskoue stroop….

See the source image